PERSVERKLARING: Die 52-Versameling

Fanfire
3 min readMar 2, 2022

VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING
1 Maart 2022
Kontak: Collin Sherriff
+27 73 369 3014
+27 21 833 9652
collin@fanfire.ai

STELLENBOSCH — Befaamde Suid-Afrikaanse landkunstenaar Strijdom van der Merwe het vandag ‘n projek getiteld die “52-Versameling” aangekondig, waar hy weekliks ‘n landkunsinstallasie gaan skep oor die bestek van ‘n jaar. Deur sy kuns wil hy nie slegs die Suid-Afrikaanse landskap vertoon nie, maar ook ‘n blik werp op die natuur elders in die wêreld. Van der Merwe het saamgespan met die plaaslike tegnologiefirma Fanfire om permanente digitale voorstellings van sy verganklike kunswerke te skep.

Strijdom van der Merwe geniet wêreldwyd erkenning vir sy landkuns wat geskep word uit sand, water, hout, rotse en klip. Sy kuns is ‘n gesprek oor ons eie verbintenis met die landskap, en hy daag daarmee ons afstomping teenoor die wêreld om ons uit.

“Die natuur is die kuns. Ek boots eenvoudig dít na wat ons verleer het om te sien,” sê Van der Merwe oor die 52-Versameling.

Dis uitdagend om ‘n kunsloopbaan te bou met landkuns as ‘n medium. Byna ‘n dekade gelede skryf kunsspesialis Jean le Clus-Theron reeds in Literator oor Van der Merwe se kuns: “Indien iets kuns genoem kan word, kan dit ook verkoop word — selfs al is dit kuns wat ‘onmoontlik’ lyk om te verkoop, soos landkuns.” Sy merk dat ‘onmoontlike’ kunsvorms volhoubaar gemaak kan word as dit “kommersialisme vermy en eerder maniere ondersoek wat konvensionele grense oortref”. Op daardie tyd het Le Clus-Theron die kunstenaar se kunsboek geprys as ‘n voorstelling wat verkoop kan word sonder om voor kommersialisme te swig. Met die 52-Versameling verken Van der Merwe konsepte waarmee permanensie verleen kan word aan kuns wat in wese tydelik is.

Vir die 52-Versameling gaan Strijdom van der Merwe stilbeelde afneem van elke installasie, en by party installasies ook bewegende media insluit wat die skeppingsproses dokumenteer. Terwyl daglig, weer en tyd die kunswerk transformeer word oomblikke vasgevang wat “nooit verby hierdie verstarde uur sal groei”.

Vir die verloop van die jaar sal daar elke week ‘n digitale voorstelling van ‘n nuwe landinstallasie op die Fanfire-platform (strijdom52.com) vrygestel word as ‘n oorspronklike kunswerk. Die volle kommersiële regte tot elke werk (insluitend herdruk- en aanlyn-regte) sal te koop aangebied word as ‘n digitale nie-verwisselbare bewys (NFT). Die eienaarskap van die kunswerk kan ook te eniger tyd herverkoop word, hetsy op die Fanfire-platform of enige ander platform wat die verhandeling van NFT’s ondersteun. A beduidende voordeel van die NFT-slimkontrakte soos deur Fanfire ontwikkel, is dat tantième op elke herverkooptransaksie sal terugvloei na die kunstenaar. Die kunstenaar verkry hierdeur effektief ‘n annuïteitsinkomstestroom en trek voordeel uit die toekomstige groei in waarde van hulle kuns.

Die versameling lanseer op 31 Maart 2022, en die eerste vier werke sal in die Rupertmuseum in Stellenbosch bekendgestel word. Die projek sluit af met ‘n galageleentheid vroeg in 2023 waar 52 addisionele oorspronklike werke uit die versameling onthul sal word. Hierdie werke word afgeneem van dieselfde installasies as die voorafgaande 52 weke, maar verskil in invalshoek of tyd van die vorige beelde. Die versameling van hierdie 52 oorspronklike werke sal as ‘n enkele lot opgeveil word by die galageleentheid.

Deur die 52-Versameling tree Van der Merwe in gesprek met die kunsliefhebber oor hoe ‘n mens kan dink oor die permanensie en eienaarskap van ‘n kunsvorm wat dikwels so vlietend soos ‘n sonsondergang is.

Fier uit die 52-versameling.

--

--

Fanfire

You need a Web3 partner who understands your brand, your cause, your business. We are your trusted enterprise Web3 solutions company. www.fanfire.ai